TRICHOMONIASE BY BEESTE

Trichomoniase is 'n ware deksiekte by beeste en word deur dekking oorgedra van 'n besmette bul na gesonde koei.   Dit word veroorsaak deur 'n protosoon genaamd  Tritrichomonas fetus.   Die organisme word in lewende kulture maklik mikroskopies  geïdentifiseer. 

EKONOMIESE IMPAK 

Die siekte het lae konsepsie tot gevolg waar vroulike diere die eerste keer daaraan  blootgestel word.   In een gevallestudie (80 teelkoeie) het die wins na 'n kwart verminder  nadat die kudde aan die siekte blootgestel was.   Omdat die siekte aanleiding gee tot  verlengde interval tussen kalwing en konsepsie (korter groeiperiode) word speenmassa  ook verminder in koeie wat wel dragtig word.   (Rae DO, et aI, J Am Vet Med Assoc  1999 Apr 1;214(7):1051-5)

 VOORKOMS

Oor twee seisoene was die organisme by 73 uit 493 bulle wat die eerste keer getoets  was, gevind.   Dit verteenwoordig 15 uit 76 boerderyeenhede.   Met uitsondering van drie  eenhede, was produsente bewus van en reeds bekend met die siekte en was  voorsorgmaatreels teen die siekte toegepas.   In 13 suiwelkuddes waar bulle gebruik  word, was die besmetting by 8 kuddes waargeneem.

 SIMPTOME

Lae konsepsie en herhaalde estrus is van die simptome wat by koeie voorkom.   In die  bul word feitlik geen simptome waargeneem nie.   Die organisme beweeg na dekking in  die koei se geslagskanaal op na die baarmoeder.   Ongeveer 50 dae na konsepsie kan  die fetus afsterf indien dit nie vroeer gebeur het nie.   Soms kan vergrote baarmoeder of  baarmoederontsteking tydens dragtigheidsbepaling waargeneem word.   'n Vaginale  afskeiding kan soms waargeneem word.   By bulle oorleef die organisme in die  penisskede en kan bulle vir lang tye as draers optree sander waarneembare simptome.
 
DIAGNOSE 

Na dekrus word 'n monster van die bul se skedeslymvlies in 'n groeimedium geplaas en  qeinkubeer.   Die organisme word met 'n mikroskoop geïdentifiseer op grond van  kenmerkende beweging en/of bouvorm van organisme.   Die organisme kan ook in  pensvog van geaborteerde fetusse of vaginale afskeiding van koeie waargeneem word.    Dit word uiters seldsaam in "n semen monster waargeneem.   Omdat die toets nie 100%  sensitief is nie en die besmettingslading wissel, word drie skrape binne twee weke  gedoen.   Drie negatiewe toetse binne twee weke gee 'n sensitiwiteit van 97.3%. 

BEHANDELING

Koeie genees hulself namate immuniteit verkry word.   Dit is nie bekend hoeveel koeie  as draers kan optree nie.   Hierdie koeie raak normaal dragtig maar bly 'n bron van  besmetting na kalwing.   Toenemende sukses word behaal met behandeling van besmette bulle.   Die besluit om  bulle te behandel, moet slegs na konsultasie met u veearts en oorweeg word. 

VOORKOMING

Deur slegs skoon getoetste bulle te gebruik, dekking van vreemde koeie deur  kuddebulle te voorkom en dekking deur vreemde bulle te verhoed, kan bydrae om die  siekte te voorkom.   Vermy teeldiere wat uit 'n kudde van onbekende deksiektestatus  kom.   In kuddes waar die besmetting reeds plaasgevind het, kan kunsmatige  inseminasie 'n groot bydrae maak om die siekte uit te roei.   Jaarlikse toetsing van bulle  is noodsaaklik.   Enstof vir koeie en verse kan op aanbevelinq van u veearts gebruik  word.

HANTERING VAN KUDDES WAAR BESMETTING VASGESTEL IS

Immunisering van verse is noodsaaklik (sien ook volgende paragraaf).   Indien 'n  besmetting in 'n bul of koei bevestig is met `n skraap of skedewas, is dit noodsaaklik dat  alle bulle minstens drie keer in twee weke getoets moet word.  Indien besmette bulle  behandel word, moet hulle na behandeling minstens drie keer skoon toets.   'n Bul wat na  behandeling gebruik word, moet na 7-10 weke nadat dit begin werk, weer getoets word.    Dit word aanbeveel dat koeie na geslagsrus (minstens een estrussiklus) verkieslik  kunsmatig insemineer word.   Indien kunsmatige inseminasie nie moontlik is nie, word  jong bulle (jonger as 27 maande vir Bos taurus en jonger as 33 maande vir Bos indicus  rasse) aanbeveel.   Die risiko dat sodanige bulle besmet gaan raak is egter baie hoog.    Goeie estruswaarneming tydens die dekseisoen kan help om verdere besmetting te  identifiseer.   Enige abnormale vaginale afskeiding moet aangeteken word.   Rektale  palpering deur 'n ervare palpeerder op 80 dae en 140 dae na aanvang van dekseisoen,  kan bydrae om die voortsetting van besmetting te identifiseer.In kuddes waar nie van 'n beperkte dekseisoen gebruik gemaak word nie, word die  volgende aanbeveel:Entstof kan op aanbeveling van u veearts gebruik word.   Maak gebruik van  estrussinkronisasie en kunsmatige inseminasie so ver moontlik.   Indien kunsmatige  inseminasie nie rnoontlik is nie, word koeie nadat hul gekalf het, in 'n afsonderlike groep  gehou vir minstens 80 dae.   Na hierdie tydperk kan 'n rektale ondersoek gedoen word  om baarmoederontsteking te identifiseer en te bepaal of koeie reeds ovuleer het.   'n  Slymvliesmonster van verdagte koeie kan gekweek word om besmetting vas te stel.    Koeie met normale baarmoeder wat reeds ovuleer het kan dan gedek word deur skoon  bulle.Daar kan ook oorweeg word om koeie te laat toets vir trichomoniase.   Hierdie toets  noodsaak 'n aangepaste groeimedium waarin slymvliesmonsters geinkubeer word.